BLY-‘N-BIEKIE saam met Smiffina

Ek haat drank. Nie soos in koeldrank se drank nie. Of die selfstandige naamwoord “drank” afgelei van die infinitief “om te drink” nie. Want om te drink is lekker, veral na ‘n lang stap deur die veld: koel water, of Coke. Lemoensap ook en milkshake!

Nee, ek haat drank! Soos in drank met alkohol. Of nee, eerder moet ‘n mens die mens haat wat so afhanklik is van drank. Wat nie iets kan geniet of lewensbly kan wees daarsonder nie. Wie se baas drank is. Wat barsenstoe- boepmaag by die motors langs die rugbystadion braaivleis hou en dop!

En dan bedoel ‘n mens nie eers die suiwer alkoholis nie.

At Koster (en JR in die ou dae se Dallas) in Binnelanders is afhanklik van elke keer se loop na die cut glass whiskyhouer (met Daniels of Chivas) en ‘n doppie te skink.  Sien, as jy dit “in smaak” doen met fensie duur glase dan is dit “beskaaf”. O ja, in Sewendelaan ook waar die whisky blykbaar heeldag oop en bloot op die toonbank in die sitkamer staan. Ook die regisseur is daarvan afhanklik want dis handig om die akteur besig te hou!

Ook die ouens by die 19e gat by ‘n gholfbaan is nie gesertifiseerde alkoholiste nie. Maar as jy nog lekker wil chat na agtien goeie gate en vanself vrolik is oor jou puik naderhou, word die manne al fluffier en fluffier. Eers kom daar so ‘n vaagte oor die oë. So ‘n allerliefste aardigheid, want die ou wat nooit “boo vir ‘n goose” kan sê in die regte lewe nie, is so gesellig soos ‘n gans… en praat die grooste nonsies. Met soveel intensiteit! “Ek sê.. ek sê…” sê hy.

Sê die voorbeeldige gemeenskapsleier ook! Whisky in die hand (presies die vierde, het sy oulike vroutjie reeds getel) voor die kaggelvuur (wonder-bo-wonder, die mans en vrouens saam!) in vriende se huis waar ‘n paar saam eet. Net, by hom is dit die pose waaraan hy heeldag, heeljaar werk,(om dierbaar te wees, en voorbeeldig teenoor sy vrou, soos dit ‘n gemeenskapsleier betaam)…. die pose wat saam met die whisky verdwyn en die waarheid wat verskyn: sy (oulike) vrou gee hom ‘n pyn.

En sy saftong verneder haar subtiel. Kneus haar seer.

Net soos die kneuse en kolle op jou
huishulp se lyf. Sy ietjoe en aa vir jou die swelsels. Wys die seertes bokant die groot los borste. Sy kan  nie eers loop nie soos haar man haar gefoeter het nadat hy te veel gedrink het – nie uit klinkblink skitterglase nie. Sommer so uit die bottel!

Is daar ‘n verskil? Die drank? So uit die bottel. Of uit die swenkie kristalglas!