Red: Henrie Smith het geskakel om ons in te lig dat hy die Smiffie gelees het en dat hy graag daarop wil inteken. Hy het ook aangebied om oor sy familie te skryf. Ons het die aanbod met albei hande aangegryp omdat dit die soort materiaal is wat ons benodig om ons diens aan die gemeenskap uit te brei. Ander lesers wat graag iets vir Smiffie wil skryf kan ons kontak.
Die skrywer se kontak nr is: Tel: 021 853 8095 of 082 439 8404.
Van L: Henrie Smith, De Villiers Smith, en Hermanus Lukas (6de Hennie) Smith.
Dit is altyd vir my ’n groot eer om te kan sê dat ek ’n semi-oud-Smithfielder is. Hoewel ek nie hier woon nie bly dit nog altyd my plek! Ek is veral ook baie beïndruk met die passie en toewyding waarmee die nuwe intrekkers saam met die oues ons dorp verfraai het. Die Smiffie Nuus was ’n puik idee en ek gaan inteken om op hoogte te bly van alles in Smithfield.
Ek is veral ook trots op die rol wat my voorouers gehad het in die ontwikkeling van die dorp en omgewing. Op 17 Junie 2008 het ons die graf ontdek van die stamvader van ‘n groot deel van die Smith-familie, nl. Hermanus Lukas Smith (1820 – 1878), begrawe op Slootkraal naby Goedemoed. Hy het ongeveer 1840 vanaf sy vader se plase De Klipfontein en Kleinpoort in die Baviaanskloof (naby Patensie) na Slootkraal verhuis. Al die Smith’s of Smitte (die stamvader was Jan Smit van Maastricht Nederland) van die Suid-Vrystaat is afkomstig van die Baviaanskloof en is almal familie.
Bogenoemde se seun, Hermanus Lukas (die 2de), bekend as “Glasoog” van wee sy blou oë, is in 1848 op Smithfield gebore en gedoop tydens die ontstaan van die dorp. Hy is op 26 April 1869 getroud in die N G Kerk op Smithfield, oorlede en begrawe in die ou kerkhof in 1909. Hy het gewoon op Hartebeesfontein wat hy op 26 Januarie 1887 gekoop het.
My oupa, Hermanus Lukas (die 3de), ook bekend as Hermaans “Glasoog”, is op Smithfield gebore op 27 Februarie 1871 waar hy gedoop en getroud is met Sophia de Waal. Hy is in 1956 oorlede en begrawe op Grootvlei (geboer op Grootvlei, Hartebeesfontein en Montague). Die seuns van bg was Hermanus Lukas (4de), Hennie van Hartebeesfontein en Hoogstede, Harry Smith van Grootvlei en De Waal Smith van Montague.
Die seuns van die broers is Hermanus Lukas (5de) of Herlu van Hartebeesfontein en Villier (Vooruitzicht); Sep (Grootvlei); Smittie (Montague) en Lukie (Klipplaats-fontein). Die plase behoort tans aan hul seuns, De Villiers (Hartebeesfontein) en Coenray (Vooruitzicht); Pieter (Montague); Seppie (Grootvlei – kleinseun van Sep) en Hansie (Klipplaatsfontein).
Herlu se seun Hennie is die sesde geslag Hermanus Lukas. De Villiers, Hennie en Philippus se seuns is elk die sewende geslag H L Smith. Daar is ook reeds ses geslagte op Hartebeesfontein.
Ek sal later skryf oor my pa Hennie se oupa Jan C de Waal van Schoorsteenberg, (die skrywer Karel Schoeman het in 1986 ’n boek gepubliseer oor sy lewe), asook oor my voorouers Hennie Joubert (Grootjie van oom Peep en stigter van Bethulie) en George A Kolbe (eerste sendeling onder die Boesmans).
Dit sal interessant wees ook om van ander families te hoor. Lesers kan gerus laat hoor van snaakse gebeure of karakters in die verlede. Volgende maand begin ek met “Flippe se Koekies”.
Filed under: News



Familie geskiedenis interessant, het Henrie, of iemand anders meer huidige inligting (afgelope 50 jaar) /